Leer Sepedi praat in Pretoria!
Nuut: Sepedi lesse vir u direkteure en werknemers
Klasse kan ook aangebied word vir korporatiewe kliënte by u kantore of lokaal van keuse.
Ek bied ook afstandsonderrig aan deur die aankoop van klankbane of videos van die lesse, of die bywoon van kursus deur middel van Skype.
Dit is vanselfsprekend dat dit uiters voordelig is om 'n plaaslike inheemse taal te praat in hierdie mooi land van ons.
Daarom is dit nodig om die taal te leer van die omgewing waarin jy bly of werk, sodat jy jouself kan handhaaf, jou regte kan uitoefen en beskerm en vriendskappe kan smee met mense van ander etniese groepe. Daarom nooi ek jou uit om Sepedi by my te kom leer!
In Pretoria, Noord-Gauteng, dele van Noord-Wes Provinsie, Mpumalanga en Limpopo praat baie mense Sepedi, wat ook bekend staan as Noord-Sotho (Sesotho sa Leboa). Dit is 'n pragtige taal, ryk aan beeldspraak en 'n magdom idiome. As jy Sepedi kan praat, kan jy egter ook gemaklik kommunikeer met ander Sotho groepe, naamlik die Basotho en die Batswana. Die Basotho woon hoofsaaklik in die Vrystaat en Lesotho en hulle praat Suid-Sotho (Sesotho sa Moshoeshoe of Seshoeshoe). Die Batswana woon in die Noord-Kaap, dele van die Noord-Wes Provinsie en in Botswana. Die taal wat hulle praat is Setswana. Met jou Sepedi kan jy dus in 'n groot deel van Suider-Afrika met die mense oor die weg kom!
Dit is egter nie maklik vir enige volwassene om 'n nuwe taal te leer nie en veral 'n inheemse taal is moeilik om te bemeester. Daarom neem dit nie drie of ses maande om Sepedi te leer nie, maar drie jaar of selfs meer, as jy die taal goed wil praat. Na sowat 'n jaar behoort jy egter al basiese gesprekke te kan voer in die winkel, op straat, by die vulstasie en waar jy ookal mag gaan. Hierdie is egter geen waarborg nie en dit hang natuurlik ook af van jou natuurlike aanleg vir tale en veral jou eie insette en harde werk. Gereelde klasbywoning is 'n vereiste. Dan verg die kursus ook dat jy elke dag ongeveer 25 minute of meer moet spandeer om jou woordeskat en jou sinne wat ons gedurende die lesse gedoen het te memoriseer en te hersien.
Ons het baie pret in die klas en almal geniet dit! Dit is dus 'n groot uitdaging en jy moet daarvoor kans sien en gemotiveerd wees voor jy begin. Dit is 'n wonderlike voorreg om 'n inheemse taal te kan praat en as jy hard werk gaan jy eendag Sepedi praat en glo vir my, jou lewenskwaliteit gaan ongelooflik verbeter. Daar is geen twyfel daaraan nie.
Laat ons begin!
Lees meer...Wys minder... Hoekom Sepedi?
- Verbeter jou lewenskwaliteit in Suider-Afrika;
- Handhaaf jouself en maak 'n verskil;
- Ontdek 'n nuwe wêreld van ander etniese groepe wat jy voorheen nie geken het nie;
- Maak nuwe vriende!
- Maak 'n verskil in jou en andere se lewens.